Antjie Krog
oggendtee
oggendtee
terwyl sy teemaak vloei iets vreemd
bekends af langs haar binne-dy. soos ink.
na jare bloei sy weer.
sy staan oorrompel
asof 'n hele boord in haar keel op
roei. geluk lek oral in. haar lyf
stoot luike oop na appels
en koeltes wat waas van voëls
sonbesies en snikhete vertes
asof 'n kind se lag weer oorloop in die bad
sy voel haar wange weerloos
word. innig en deurbloos van daaglikse
nabyheid. asof haar buik jonk
en sterk uitswel om die mooiste wat sy was
haar nek verlief neem met soveel lig
sy dra die tee uit op die stoep
die lug blus sag vir dié tyd van die oggend
die stad lê soos 'n volgeloopte dam
hy kom sit langs haar. rustig roer hy
sy tee. so sit hulle. so ver reeds nagelaat
in verlies. vir hulle vrugbaarheid so
seldsaam sorgvuldig ná aan mekaar