Charl-Pierre Naudé
Die man wat Livingstone gesien het
Die man wat Livingstone gesien het
Die man wat Livingstone gesien het, was feitlik reeds blind.
Hoe lank gelede het hy Afrika ingestrompel – die 1850’s, 1860’s?
Livingstone en sy geselskap, hul muskietnette
en hul houtkiste, die groot verkenner wat kort daarna sterwe …
Leeftye terug. (Moeilik om sy jare te peil
volgens ’n koerantberig van die vroeë jare sestig.)
Dus is die ou man, wat toe hy kind was, Livingstone gesien het,
op die hande gedra deur sy mense, deur vreemdelinge ook:
’n nasionale kleinood, ’n rondreisende museumstuk.
Sy ululerende stamgenote het hom in ’n omgeboude kruiwa
van dorpie na dorpie gestoot, vooruit en agterna in ’n eindelose
kronkelgang al met die spoor langs in die nou modderpaadjie,
af deur digte bos, van oopte tot oopte, nie sonder ongevalle nie,
vir myle en myle en dae sonder ophou, die ou man wat geduldig
in sy ysterkoppie dobber, oë omgedop, bene ingevou.
Of hy kom in ’n dorpie aan in ’n sykar, vasgebind aan ’n tandemfiets,
wat deur twee getrap word, sy gevolg wat saamdrom en op fluitjies
blaas en toeters druk terwyl ekstatiese dorpelinge die stofstraat vee
vir die aankomende optog, met palmblare en strooibesems.
Soos die dag toe Livingstone self deur die skare
in Londen verwelkom is, stadig op sy pad na Buckinghampaleis.
En die nuuskieriges daar, van heinde en ver, om hul respekte te toon.
Om oopmond te staar na die enigste man nog lewend –
nou kinds van die ouderdom – wat die beroemde pionier
met sy eie oë gesien het op ’n bepaalde môre in 1870
van agter ’n struik, binne hoorafstand van die Groot Water:
hoe hy rigting vra in ruil vir wierook en koper.
Hoe vreemd om te aanskou, ’n deurskynende reisiger,
heeltemal van siel gemaak, ’n mens sonder ’n lyf!
Sy voete word gesoen, die omgedopte lepels van sy ooglede betas
ná ’n fooitjie by die deure van die gemeenskapsaal.
’n Historikus van Europa het gekom om notas te maak:
iewers in dié fossiel skuil ’n eerstehandse ervaring,
’n lewende prentjie, van die grootse Livingstone.
Die kenner het die ou grys kop gekantel soos ’n towerlantern
en diep in sy oë getuur vir die ontwykende geheuebeeld.
In die skadudans van blare wat deur die venster oor sy gesig speel, ja daar:
die avonturier, wat wild beduie; sy draers die pad vorentoe wys.
Die woerende dakwaaier se skaduweeflits, helder soos daglig:
’n voël wat verby swiep, net toe hy uitvra oor die Waterval.
Die oue was nou vinnig aan die kwyn, honderd en twintig jaar oud.
Al van hom nog oor, was daardie prentjie van die pionier.
Is ’n honderd en twintig jaar oue
dan nie ’n pionier nie?
Op ’n draagbaar het hulle hom uitgedra, een man voor
en een man agter, en hom langs sy houtkis neergesit.
Nie die einde van die reis nie, net ’n blaaskans vir die draers...
En só het hy Livingstone, selfs Marco Polo geword,
’n adellike op sy draagstoel oor die verste voorpos
die Oneindige in, ’n ontdekker
van die suiwerste water.