Charl-Pierre Naudé
Vampiere
Vampiere
Vampiere in Malawi, berig die koerant.
Die president reik selfs ’n verklaring uit:
“Wys my ’n vampier, dan stop ek hom in die tronk.”
Maar wie behoef bewyse, as daar lyke is?
’n Meisie van so agttien, leeggesuig en styf
soos ’n stok, twee slagmerkeaan haar nek;
haar hande onnatuurlik groot en benerig
soos valkvlerke op haar wydogige borste.
En die hoofman se seun in sy kruis geknak
teen ’n ploeg, toe niemand gekyk het nie –
bene wat invou om die uier van sy fallus,
en nie ’n druppel bloed oor in die res van sy lyf nie!
Drie weermagjeeps van Lilongwe haas diékant toe
na ’n dorp, nog drie sóóntoe na ’n noodgebied:
om wag te hou in die nagte, maar tevergeefs.
Die vampiere sluip deur, altyd nog ’n lyk in die môre;
soms nie eens merke nie, net ’n pubis wat bult
soos nuwe piesangs; of ’n buik wat staan
soos ’n dier se skrik.
“Waar is die lyke?” vra die rondgaande kommisaris.
“Onmiddellik begrawe … ter beswering,”
fluister die priester en kriskras sy bors.
Die soldate bevestig dit; van hulle sterf ook,
een het so op sy stewels ineengesak,
arms om sy R1 soos ’n wingerdstok gevleg
of ’n slang, om die staf van die geneeskunde.
Selfs die VN se VIGS-kliniek word oornag ’n teiken.
“Dit slaap in my bloed, in die lengte van my lyf!”
sê een – om deure te grendel of toe te spyker
help ook nie, die vampiere loop deur mure.
Vampiere: sonder tande, met spuitnaalde;
hulle trek bloed en loop daarmee in sakkies weg.
Die hulpwerker sê die mense aanvaar dit al,
sien selfs uit met ’n groeiende begeerte.
“Snags land sy op my dak,” sê ’n man, “en hurk daar naak …
van onder af sien ek die tiervelbeursie
van haar mik ... so deur die sink.
Sy wag haar oomblik af en ek wag vir haar.”
’n Kerkhoffie met kerse flakker soos ’n verjaardagkoek.
’n Troue, maar net een staan voor die kansel:
’n visgraat van ’n meisie wat smoorverlief is
op háár vampier, ’n bruidegom in absentia.
Al hoe meer lanterns dwaal sonder mense,
’n stat het net ’n hond, maar iemand voer hom snags.
Fluisterings dryf: “kan nie wag nie” en “waarom môre …”
terwyl jonges glimmend dans in ’n dorpsaal
soos maskers op stokke in ’n ou, ou karnaval.
En soos
in verre noorderstreke,
waar lang seisoene van donkerte soms heers,
gaan die lewe voort
in die ryk van die skimme.