Skuinslig op die plato

                                               Hoëveld, met ongewone weer

’n Sneeuvlok sit
op my ooglid –
en alles staar met ’n duisend oë
na my terug.

Ek bemerk ’n skaduweesoort
in die mites beskryf –
ʼn onvatbare gevaar, en argeloos.
Miskien is dit ʼn skim
wat ook te sien is
op die seebodem,
en op Madagaskar?

Die winterlig flikker
deur ritselende boomblare
soos televisie- of kameraflitse.

Hier is wesens
met seldsame tentakels.
Hul talryke ledemate,
in selofaanagtige kleding
wat aankleef soos koue sweet
wat opgespuit is,
loop dwarsdeur my

by ’n wildgroeiende modeparade
wat met skredes vertak.

Of dalk is ek
by ’n soort bruilof: dié eenmalige gewit
van die takke;
en die singende wortels
van ’n onsigbare gemenebes.

Ek glip tussen
glimpe op ’n buitenis:

rare leefvorme
soos op ʼn eiland,
betrap en gevang in die fuik
van my skuinsblik.

Die winterson
– stemme, honde wat veraf blaf
maar digby –
straal skielik vol

op my
met my netwerkie alledaagse
verbintenisse wat vervaag,
so tydgebonde belangrik vir myself

– vir kinders is dit
feë, elwe, Brigadoon –
hier onder die berke,

soos ’n flits
wat bleek skyn
op ’n vermiste persoon.

© Charl-Pierre Naudé
From: unpublished
Audio production: Literaturwerkstatt Berlin, 2015