Die grond van die voorvaders

’n Paar jaar gelede beland ek een naweek
op ’n versaakte plasie, in noordoos Mpumalanga.
In hierdie streek, word gesê, kom die hoogste
frekwensie loodregte weerlig in die wêreld voor.
Die hemelruim verdonker; silwer en karmosyn –
en die pletterklanke begin. Soms slaan ’n hoë boom
in vlamme uit. My vriendin van Berlyn
was saam, ons was verliefdes in dié tyd,
en ver van die huisie toe die storm opsteek.
Sy het verlang na haar eie stad, met sy kleed van droewe as ...
In die wandeling kon ons voel hoe die lading in ons hare
en in ons klere oplaai, hoe die granietblokke
opstapel, in ’n onsigbare wêreld.
Die grondpaadjie het gekronkel na ’n oop plato,
                                                                ’n hoë grond
waar die woedende hemele als doodslaan wat beweeg.
Die gerug, van ’n ou luiperd wat daar rondsluip ...
Ons hartkloppe was hoorbaar, maar te laat vir omdraai.
Vroeër jare was daar ’n halfweg-hut. Peule het geritsel.
’n Blikkerige getingel, van amulette in die bome.
Verby ’n kopbeentjie wat grinnik op ’n stok.
“Jy weet daar’s ’n vloek hier,” sê ek; ontsenu, in ’n grap.
En net daar, vries sy: “Ons moet terug!”, steek haar arm uit,
die fyn haartjies regop, die wortels wat trek; pluk aan my
en slaan voet in die wind, daardie langbeenmeisie,
’n eksotiese volstruis oor die voorvadergrond
van ’n uitgedelgde Afrika-stam, die swart verskroeide stoppelland
bloedgrond haar rok wat opwaaier soos ’n waansinnige blomkroon,
die kelkie onder wat flits. Ek agterna. Sopnat.
                                                                By die huisie

aangekom. Ons kerse het nog gebrand.
Maar die plek was ’n gemors: tafeldoek gesleep,
glase omgestamp, borde op die vloer. ’n Wilde
veldreuk in die vertrek. ’n Wind, dieper huisin.
“Maak alles toe!” skreeu ek. “Gou!” beaam sy.
Haastig sit ons die klinke op en haak die luike toe.
Die reën het swaar uitgesak. Hael en wind. Blitsende
donder. Veilig nou ... Of nie? Daar het ons staan en drup,
met glimlagte breed soos seilbote wat te water gelaat word.
Toordery ... in die wegvlug loop jy daarin vas ...
En dink ek terug, het die onderdak ons nie gespaar nie.
Ons was steeds op voorvadergrond, met al sy grille.
Enige twee minnaars naak saam, is op voorvadergrond.
Die aasdier? … dit was ons, die mens, wat bedel om versorging.
                                                                En die weerlig?
Die laatmiddag se bliksemskigte –
wat tussen ons gebeur het met ons tuiskoms
op die oopte van die hart, waar geen mens kan wegskuil nie?
Dit was net genade. Bloot genade.

© Charl-Pierre Naudé
From: Against the Light
Menlopark: Protea Boekhuis, 2007
Audio production: Literaturwerkstatt Berlin, 2015