Oggend en aand met duiwe

Die lug is vol a priori-duiwe.
Oral waar hul is, wás hulle tevore.
Soos ’n droom wat spartel in die lug
is die dag,
met een hand gepluk
uit die flikkerende stroom, dan verdof dit.

Die huise teen die rantjie staan skraal geëts
in die vroeë lig, soos tekenplanne.
En die lug is vol a priori-duiwe
vandag, of miskien was dit gister.

Die nag, weer,
word bewoon deur post factum-uile.
Hulle fladder op en verf
met hul bromiedkwaste
die teenwoordige tyd bruin –
die heterdaad word roes.

Onthou jy die leë huis met die voetstappe?
“Mense van ’n vervloë tyd ...”
“Miskien net óns s’n.”

Deur die stroke van die blindings
skuif motvlerkoë oor jou lyf
in akkoorde;
onder somersproei bot die polkadot
in die bikini-boorde.

Vet soos nuwe konfytbottels
staan die dimensies op ’n ry.
Die helder vlakke stig kore
in die heuningkoeke
teen die steiltes;

die as stort in matesis.

Die lug word grys van a priori-duiwe.
En alle tyd skyn deur,
soos ’n fiets teen die lig.

© Charl-Pierre Naudé
From: Al die lieflike dade
Cape Town: Tafelberg, 2014
Audio production: Literaturwerkstatt Berlin, 2015